ONTLONTING
Wanneer moet dit gedoen word?
DIT WORD AANBEVEEL OM NIE BINNE 72 UUR VANAF ‘N TRAUMA BELEEF IS ‘N ONTLONTINGS-GESPREK TE VOER NIE. SIEN DIE GRAFIESE VOORSTELLING VIR DIE NORMALE VERLOOP VAN DIE VERWERKING VAN ‘N TRAUMA.
Die belewing van trauma kan in verskillende fases verdeel word. Dit begin met ‘n Impakfase, gevolg deur ‘n Reaksiefase, ‘n Terugtrekfase en uiteindelik ‘n Integrasiefase.
Tydens die Impakfase vind daar verskeie biologiese reaksies plaas en veranderinge in die brein se Beta (Normale bewussyn), Theta (voorbewussyn) en Delta (onderbewussyn) golwe vind plaas.
Wanneer die brein in die Theta –toestand funksioneer, is dit asof dinge stadiger gebeur. Waarneming vind in ‘stadige aksie’ plaas. Die brein se vermoë om ervarings en waarnemings logies te kategoriseer word ook beïnvloed. Daarom is dit dikwels vir mense moeilik om gebeure na ‘n traumatiese ervaring in detail en logies te herroep.
Dit is een van die redes waarom dit nie sinvol is om ‘n ontladingsgesprek in hierdie tyd te doen nie. Dit is sinvol om die ontlonting te doen na die terugtrek fase. Tydens die reaksie fase is groot hoeveelhede adrenalien, kortisol, opiate en s.g. streshormone in die liggaam aktief.
Dit neem ongeveer 72 uur om weer na ‘normaal’ terug te keer. Dit is dan dat die ontlontingsgesprek eers sinvol kan plaasvind. Ontlonting is die gestruktureerde proses waardeur ‘n persoon/persone wat ‘n trauma beleef het, deur ‘n kundige persoon begelei word. Tydens die proses word hul kognitiewe en emosionele belewenisse en indrukke van die traumatiese ervaring hersien en georden. Dit dra by tot die vermyding van langdurige emosionele skade wat moontlik na so ervaring kan volg.
LW. Selfs al is daar nie simptome nie is dit wenslik om, na afloop van sewe dae na die insident, traumaberading te ontvang. Dit sal gestruktureerde ontlonting [ontladingsgesprek] van die trauma verseker. Verder kan dit aanpassing bespoedig en latere Post Traumatiese Stres Versteuring (PTSV/PTSD) voorkom.
WAT IN DIE EERSTE 72 UUR NA TRAUMA GEDOEN KAN WORD
In die eerste 72 uur na 'n trauma, wanneer groot hoeveelhede adrenalien en kortisol in die liggaam teenwoordig is en sinvolle berading onmoontlik is, moet trauma ondersteuning gedoen word.
Die tipe ondersteuning sal van situasie tot situasie verskil. Dit mag nodig wees om net "daar te wees" vir die getraumatiseerde persoon tot die inroep van hulp soos Paramedici, Polisie, Insleepdienste, kontak van naasbestaandes, persoonlike bemoediging en so meer. Hierdie eerste ondersteuning is meer dikwels die taak van 'n omstander, vriend, familielid of nooddienswerker. Dit is natuurlik steeds verkieslik dat 'n toegeruste berader die ondersteuning kan lewer.